Ons het op Woensdag die 14de Januarie sommer vroeg-vroeg al weggespring met ons grasplantgeleentheid. Oud en jonk werk saam, want ons plant gras vir ons nuwe rugbyveld!
Die opwinding heers al 2 jaar lank. Die beplanning, fondswerwing, grondwerke en installering van ‘n moderne besproeiingstelsel word gedoen en nou kan ons uiteindelik die gras in die grond kry.
Ryno Verster, lid van ons opvoedingsraad, ‘n boer van die omgewing en ouer by ons skool, het een van sy spilpunte vir ons tydelik opgeoffer en so die nuwe rugbyveld se gras vir ons geplant en besproei.
Ons kan nie bekostig om gras onder ons voete te laat groei nie! Winterspele is die jaar by ons en ons verwag ten minste 1000 spelers en 2000 toeskouers!
Ouer en kinders het hard in ons warm Karoo-son gewerk, die gemoedere was lig en die gees van spanwerk het geheers. Swaar gelaaide trokke vol gras is oor ‘n afstand van 25km na die skool toe aangery.
Selfs BKO (Bo-Karoo Opleiding) se studente se hulp word ingeroep om hierdie berg (van bykans 30 000 vierkante meter se gras) wat voor ons lê in ‘n miershoop te verander.
Ons hoofseun Daniel Tomlinson het gesels oor hoe belangrik dit vir ons kinders is om te help; dit leer ons nie net om hard te kan werk nie, maar ook saam te werk vir ‘n groter doel en ‘n beter toekoms vir ons almal te skep.
Ons is dankbaar vir elkeen se hulp en trots om deel te wees van hierdie gemeenskap.







