Orania CVO-skool gereed vir 2026 met groei en nuwe inisiatiewe

Orania CVO-skool betree die 2026-skooljaar met dankbaarheid, opgewondenheid en ’n sterk fokus op Christelike en kultuurgegronde onderwys. Alle beplanning word aan die Hoër Hand opgedra om rigting te gee in die belangrike taak om kinders vir die toekoms voor te berei.

Die skool sien daarna uit om nuwe leerlinge te verwelkom, wat by aankoms begroet sal word deur ’n nuwe roostuin voor die kantoor. Al die onderwys-, administratiewe en bedryfshoofsposte is gevul, en elke kind sal vanaf dag een deur ’n professioneel gekwalifiseerde onderwyser onderrig word.

Daar is ’n beduidende toename in inskrywings vir 2026, sowel vir klassikale onderrig as vir KuberSkool. Met KuberSkool, die skool by die huis, word ’n generiese model ingestel wat groter buigsaamheid aan tuisskoolouers bied. Leerlinge sal steeds die geleentheid hê om by die skool in te skakel en aan kultuur- en sportaktiwiteite deel te neem.

’n Hoogtepunt op die 2026-kalender is die Winterspele wat vir die eerste keer in Orania aangebied word. Ongeveer 2 000 ouers, familie en leerlinge word vanaf 25 Junie verwag. Die byeenkoms sal op die skool se eie sportvelde plaasvind. Voorbereidings sluit die aanplant van gras op twee rugbyvelde in, met die hulp van BKO-studente, ouers en ondersteuners uit die gemeenskap.

Die skool se opvoedkundige fokus bly die holistiese ontwikkeling van leerlinge. Vanuit ’n Christelike roeping en trotse Afrikanerkultuur word waardegedrewe onderwys aangebied om leerlinge te anker en toe te rus vir ’n suksesvolle, toekomsgerigte lewe.

In 2026 word die vak Robotika vir graad 7- en 8-leerlinge ingestel. Hierdie vak vorm deel van die skool se strategie om leerlinge voor te berei vir die nuwe era van rekenaartegnologie en kunsmatige intelligensie, waaraan hulle reeds toenemend blootgestel word.

Orania CVO-skool is besonders trots op die 2025-matrieks wat ’n 100%-slaagsyfer met 96% matriekvrystelling, vier leerlinge wat elk drie onderskeidings sowel as een leerling met n gemiddeld A behaal het. In 2026 sal daar voortgebou word op hierdie prestasies deur te fokus op getroue skoolbywoning, toegewyde deelname aan onderrig, deeglike voorbereiding vir assessering en die verbetering van leerlinge se leesvermoë, onder meer in samewerking met die plaaslike biblioteek. Ons gaan fokus om ons eie biblioteek in die klas aan te vul met meer moderne leesboeke om leerlinge se lus vir lees aan te moedig.

Facebook